Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 22 MAART 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

REGISTREER NOU VIR NATKON 2009

KLAS B- (ZU) EKSAMENS OP 20 MEI – BEGIN NOU MET KLASSE

SARL-BRIEF AAN KLUBKOMITEES

WYSIGINGS AAN DIE 40 METERBAND

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

REGISTREER NOU VIR NATKON 2009

Registrasies vir die SARL se Nasionale Konvensie word nou aanvaar. Volle besonderhede is beskikbaar by www.sarl.org.za.

NATKON 2009 begin met ‘n spitbraai op Vrydag 24 April aangebied deur die Kaapstad Amateurradiosentrum by die vertoonlokaal van Toyota in Bellville.

Registrasie vir die AJV begin om 08:00 by die Oakdaleklub. Die vergadering begin om 09:00. Namiddagaktiwiteite sluit ‘n bootreis op Afrika se grootste katamaran in. Dit vertrek van die Kaapstadse waterfront. Alternatiewelik kan u op ‘n besoek aan Kaapstadradio besluit.

Die jaarlikse toekenningsdinee begin om 19:00 by die Oakdaleklub, waartydens die trekking vir fabelagtige pryse ook sal plaasvind. Vir elke gebeurtenis waaraan u deelneem sal u ‘n gelukkige nommer ontvang wat vir die trekking Saterdagaand in aanmerking sal kom, maar u moet self teenwoordig wees om een van die baie pryse in ontvangs te neem indien u ‘n gelukkige wenner is. Die gasspreker die aand sal Sias Mostert van Sunspace wees.

NATKON 2009 sluit Sondagoggend met ‘n ontbyt af.

Die agenda vir die AJV sowel as alle dokumentasie vir die vergadering kan uit die lede-afdeling van www.sarl.org.za afgelaai word; klik regs bo op die knoppie “members only”, en voeg u PIN in.

Bywoning van die AJV is gratis en alle lede word uitgenooi om dit by te woon. Daar is kostes aan verbonde vir ander gebeurtenisse. U kan op die registrasievorm aandui aan watter gebeurtenisse u wil deelneem.

NATKON 2009 word aangebied deur die samewerking van die Boland Amateurradioklub, die Oakdale Amateurradioklub en die Kaapstad Amateurradiosentrum. Hulle verdien u ondersteuning om NATKON 2009 ‘n groot sukses te maak. Doen u bespreking onverwyld.

KLAS B- (ZU) EKSAMENS OP 20 MEI – BEGIN NOU MET KLASSE

Die volgende Nasionale Klas B-eksamens sal op Woensdag 20 Mei 2009 afgelê word, die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 April 2009. Die Klas A-eksamens vind op dieselfde dag plaas.

Terwyl klubs kan registreer om hulle eie Klas B-eksamens te stel, (Kyk onder die lede-afdeling van www.sarl.org.za) verg dit minder administrasie deur klubs indien kandidate vir die nasionale eksamen inskryf.

Die studiehandleidings vir beide klasse A en B is gratis vir aflaai beskikbaar vanaf www.sarl.org.za. Neem studente asb. vooraf deur die HF-assesering sodat hulle verslae saam met die eksamenantwoorde ingedien kan word.

Dit word ook aanbeveel dat aan studente vir die Klas A- sowel as die Klas B-eksamens praktiese onderrig op die lug aangebied sal word. Dit vul hul kennis van amateurradio aan en help hulle in hulle eksamen.

SARL-BRIEF AAN KLUBKOMITEES

Die SARL het die brief om opdatuminligting aan klubs te verskaf weer ingestel. Die eerste uitgawe van die nuwe reeks is kort gelede per e-pos uitgestuur. Hierdie uitgawe is ook beskikbaar onder “Club Talk” in die nuusafdeling van die webwerf. Klubsekretarisse word versoek om die besonderhede van klubkomitees by die SARL se sekretaris op datum te bring en aan te dui watter komiteelede afskrifte van die nuusbriewe wil ontvang. Doen dit per e-pos aan secretary@sarl.org.za.

WYSIGINGS AAN DIE 40 METERBAND

Terwyl beplan word dat die wysigings aan die 40 meterband op ‘n wêreldwye grondslag op 29 Maart 2009 in werking sal tree, hang die werklike datum af van elke land se eie reguleringsoutoriteit. Die SARL werk vir die afgelope 15 maande al saam met OKOSA vir die uitbreiding aan die 40 meterband sowel as die opdatering van die die frekwensietabel in die regulasies. Ongelukkig is die proses maar stadig. Die huidige status is dat die veranderings opgestel is en nou by die regsafdeling van OKOSA is. Die SARL skakel op hoogste vlak met die outoriteit ten einde die nagaan van die regsaspekte daarvan te bespoedig.

Let asb. daarop dat die addisionele spektrum nie gebruik mag word nie totdat die veranderings in die Staatskoerant gepubliseer is. Hou u oog op www.sarl.org.za, die inligting sal vrygestel word sodra dit beskikbaar kom.

SARL-LIDMAATSKAP GROEI STEEDS

Hierdie week staan die SARL-lidmaatskap op 1 431 en is goed op pad na die 1 500 merk. Ons verwelkom vandag die volgende nuwe lede:

ZS6RF, Leon Dalziel
ZR1JH, Willem P. J. Baard
ZS3D, Daniel J. Mans
ZS6-5003, Louis Joffe
ZS1HR, Hennie Janse van Rensburg
ZR6LSD, D. . Vermeulen
ZU6HB, H. P. Botha
ZS6J, Jan du Buisson
ZU1RG, Ray Guess
ZR3DC, D. Cassela
ZR2TWG, T. Giwa
ZR6RIL, R.I. Langa
ZR3DJY, J. Lyuma
ZR6KGM, K.G. Magano
ZR4SNM, S.N. Mahamutsa
ZR6BMS, B.S. Mokete
ZR6TJA, M.M. Tjabadi
ZR5GF, G.F. Msomi
ZR6MSR, M.S. Rambau
ZR6LLM, L. Hongwe
ZR6KGD, M Kgoedi
ZR6MTM, M.M. Tshabalala
ZR6PS L, Swandle
ZR6KAM, K. Sesoko

U het die regte besluit geneem om by die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, aan te sluit. U is hartlik welkom.

KOMPETISIENUUS

SARL 80 meter QSO-party.

Die eerste been van die SARL se 80 m-QSO-partyvind op Donderdagaand 2 April plaas. Dit duur van 19:00 tot 22:00 SAT. Dit is ‘n kompetisie vir spraak alleen in die bandsegmente 3 600 tot 3 650 en 3 650 tot 3 800 kHz. Roepseine, ‘n RS-seinverslag en ‘n serienommer, wat by 001 begin,word uitgeruil. Kontakte met Suid-Afrikaanse stasies tel 10 punte elk en kontakte buite Suid-Afrika tel 15 punte elk.

Log- en opsommingstate moet gestuur word aan Die Durban Amateurradioklub, Brownlee Place 17, Bluff, Durban, 4052, of per e-pos aan zs5lp@sharksden.co.za. Die sluitingsdatum vir insending is 17 April 2009.

SARL-HF-Velddag.

Die kompetisiekomitee het 20 logstate vir die eerste been vir hierdie kompetisie, wat in Februarie gehou is, ontvang. 19 was kompetisielogs met dié van die Lichtenburg ARK, ZS6LRK, as ‘n kontrolelog. Die uitslae is as volg:

Multi-operateur, veldstasie.
1ste Wesrand ARK, ZS6WR, 64 312 punte, laekrag;
2de Boland ARK, ZS1TB, 60 736 punte, laekrag;
3de Sandton ARK, ZS6STN, 44 832 punte, laekrag.

Enkeloperateur, veldstasie.
1ste Jan Botha, ZS4JAN, 92 400 punte, QRP;
2de Pierre van Deventer, ZS6BB, 38 052 punte, QRP;
3de Tienie Herbst, ZS6MHH, 15 348 punte, hoë krag.

Algemene stasie.
1ste Pieter Jacobs, ZS6XT, 37 782 punte, QRP;
2de Philip Esterhuizen, ZU4PE, 33 096 punte, laekrag;
3de Mitchel Mynhardt, ZU6M, 26 224 punte, laekrag.

Dankie aan almal wat deelgeneem het en ‘n spesiale woord van dank aan diegene wat ‘n logstaat en opsommingsblad ingestuur het en mooi gedaan aan die wenners van die verskillende kategorieë. Die volledige uitslae is in HF Happenings 345 gepubliseer.

KLUBNUUS

ORT-komitee vergroot.
Tydens die jongste maandvergadering van die Oosrandtak is die volgende lede tot die komitee geko-opteer:
Eretesourier - Andre van Tonder, ZS6HE;
Jeugaangeleenthede - Marius Mynhardt, ZS6MGM;
QSL Manager - Mitchel Mynhardt, ZU6M.

Mitchel is die jongste lid wat ooit tot hul komitee verkies is. Hy is 11 jaar oud en het sy bedrewenheid as operateur getoon deur die WAZS 200-toekenning te verwerf binne 8 maande nadat hy sy lisensie verkry het.

Met sy deursettingsvermoë en vaardigheid om QSL’s te bevestig het hy verdien om as QSL-bestuurder op die komitee te dien. Sy pligte sal die stuur en ontvangs van QSL-kaarte ten behoewe van die klub en die opdatumhou van die logboek insluit.

EKURHULENI RAMPBESTUUR KOMMUNIKASIEVRYWILLIGERS

Tydens die maandelikse vergadering van die Ekurhuleni Rampbestuur Kommunikasievrywilligers op 5 Maart, is die afdelingstrukture geaktiveer. Ekurhuleni Metro (Voorheen die Oosrand) is in vier streke verdeel. Elke streek het ‘n Streeksbestuurder. Die eerste taak van die streeksbestuurders is om ‘n komitee in die lewe te roep ten einde die daaglikse sake van die streek te beheer. Streeksvergaderings sal maandeliks in elke streek gehou word. ‘n Vergadering sal periodiek gehou word vir bidireksionele terugvoer deur die RBKV Ekurhuleni-komitee.

Bestuurder - Chris Gryffenberg,ZS6COG;
Sekretaris - Lydia Upfold,ZS6MTB;
Oostelike Streeksbestuurder - Sias Pretorius, ZR6ABT;
Noordelike Streeksbestuurder - Howard Ware, ZS6ZS;
Suidelike Streeksbestuurder - Kobus van der Merwe, ZS6JPY;
Sentrale Streeksbestuurder - Leon Lessing, ZS6LMG;
Skakelbeampte en Webmeester - Marcel Upfold, ZS6OTB.

Alhoewel die RBKV ‘n inisiatief van die ORK is, hoef die lede van die RBKV nie lede van die ORK te wees nie. Die ORK doen ‘n beroep op alle amateurs in die Ekurhuleni Metrogebied om die betrokke streeksbestuurder te kontak indien iemand by die RBKV wil aansluit. Nie-amateurs mag ook as boodskappers aansluit.Vir verdere inligting besoek www.zs6erb.co.za en lees die seksie onder DDMCV.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die son se onvermoë om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van gestoorde sonvlektellings gebruik maak en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette begin nou om optimistiese waardes te voorspel.

Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX met moontlike 15 m-openinge na Indië vanaf 13:00 SAT gevolg deur 20 m om 16:00. ZS6BZP het ook berig ontvang dat 17 m baie goeie resultate gedurende die middag na die Ooste oplewer. Kontakte met Nieu-Seeland gaan baie uitdagend wees. Om 07:00 is daar moontlike swak 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 14:00 tot 18:00 gewerk word en daarna op 20 m. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15 m-openinge na Europa wat deur 20 m-openinge om 18:00 gevolg gaan word.

Kort, flou kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m om 20:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan slaap alhoewel goeie resultate nog rondom middagete verkry kan word.

Saans is 80 m die beste keuse. Die donderstorms en geraas van statiese ontladings kan dinge bietjie uitdagend maak.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

21 en 22 Maart – SARL se BHF-/UHF-kompetisie;
2 April – Eerste been van die 80 m QSO-party;
18 April – Wêreldamateurradiodag, en
24-26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel, en deur George, ZS6NE, vertaal is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003